Advies & Nuus

Hoe om jou besigheid te optimaliseer vir sukses

"Optimalisering beteken eenvoudig dat jy 'n klomp klein goedjies neem wat nie baie moeilik is om te verander nie, en al daardie klein veranderinkies vermenigvuldig en jy kry 'n reuse verandering uit al daardie klein veranderinkies." – Tony Robbins (Amerikaanse skrywer, entrepreneur, filantroop en lewensafrigter – vry vertaal)

Besigheidsoptimalisering is die proses waardeur die doeltreffendheid, produktiwiteit en prestasie van 'n besigheid gemeet word en maniere gevind word om op daardie metings te verbeter.

Hier is 'n paar wenke om in gedagte te hou wanneer ons daaraan dink om ons besighede te optimaliseer:

Begin by jouself

Is my stel vaardighede steeds relevant om my besigheid die toekoms in te lei? Daar is altyd die risiko van selfvoldaan raak en op ons ervaring en gevestigde vaardighede vertrou. Eerstens moet ons verstaan wat die hoof toekomstige tendense in ons bedryf is en dan moet ons vasstel of ons gesamentlik (ek, my personeel en infrastruktuur) in die jare wat voorlê nog relevant sal wees. Dit kan nodig wees dat ons ons en ons besigheid moet herskep om pasgemaak vir die toekoms te wees. Wanneer besigheid afneem, bied dit aan ons die geleentheid om vir die volgende opswaai en toekomsvooruitsigte voor te berei.

Ons sakeperseel

Is ons perseel naby aan ons teikenmark geleë? (Of is dit nie belangrik nie?)
Huur ons die perseel of besit ons dit? Wat is die beste opsie vir ons?
Is ons perseel te groot, of te klein vir ons bedryfsvereistes?
Moet ons dit oorweeg om 'n deel van die perseel aan 'n ander besigheid te onderverhuur (indien ons huurooreenkoms dit toelaat, of is ons bereid om dit as eienaars van ons perseel te doen)?

Voorraad

'n Produk-gefokusde besigheid moet 'n doelgerigte poging aanwend om seker te maak dat die voorraadvlak optimaal is (nie te veel, te min of verouderde voorraad nie) aangesien dit ons kontantvloei kan blokkeer. Daar moet van verouderde voorraad ontslae geraak word – oorweeg 'n uitverkoping teen afslagpryse. Indien voorraad op krediet aangekoop is – maak seker jy kry die beste (d.w.s. die langste termyn en goedkoopste) betaalvoorwaardes.

Ons personeel

As sake knyp, kan ons dit oorweeg om ons personeel korter skofte of verminderde ure te laat werk. Nog 'n opsie is om personeel wat bedank met kontrakwerkers te vervang, wat ons meer buigsaamheid in ons personeelkapasiteit sal gee. Dit is ook wys om 'af tye' of 'n stadiger ekonomie te gebruik om die vaardighede van ons personeel op te skerp.

SEB-gradering

In die Suid-Afrikaanse besigheidskonteks is dit belangrik om ons SEB-gradering te bestuur en te verbeter. Dit kan op so 'n wyse gestruktureer word dat dit ons besigheid ten opsigte van kontantinvloei en toegang tot nuwe markte kan bevoordeel.

Maak ten beste gebruik van moontlike besigheidsgeleenthede

Ons streef dalk besigheidsgeleenthede na met 'n skraal kans om tot besigheid te realiseer. Die neerskryf van alle geleenthede en die orden volgens die moontlike kanse op sukses, kan help om ons beperkte besigheidshulpbronne meer doeltreffend te fokus.

Optimaliseer herverkope aan bestaande kliënte

Baie van ons jaag die volgende nuwe kliënt vir ons besighede na en vergeet dat ons reeds oor 'n bestaande kliëntebasis beskik. Dit voel dalk soos 'n beslommernis om kliënte-inligting vas te lê vir die stuur van direkte bemarkingsboodskappe en spesiale aanbiedinge, maar dit is die moeite werd as 'n mens eers die inligting op rekord het – want jy weet dat die waarskynlik dat hulle nog 'n produk of diens by jou aankoop; groter is.

Kapitaalstruktuur

Daar is dalk 'n geleentheid om ons besigheid te herkapitaliseer om kontantvloei te verbeter en groei te stimuleer. Die hefboomfinansiering van ons bates en debiteureboek (indien enige) kan dalk net ons volgende groot transaksie of uitbreiding finansier.

My adviseursgroep

Robert Kiyosaki noem dit ons "Mastermind"-groep. Dit sluit ons rekenmeester, bankier, eiendomsadviseur, finansiële beplanner, besigheidsafrigter en ander suksesvolle besigheidseienaars in. Gebruik hulle kollektiewe kundigheid en ondervinding om jou te help met jou moeilikste besigheidsuitdagings of daardie groot geleentheid wat jy maar net nie kan benut nie. Wedersydse vertroue en respek is van die grootste belang en almal moet gewillig wees om 'n wederdiens te bewys.

Ek vertrou dat hierdie artikel jou sal motiveer om uit 'n positiewe hoek na besigheidsoptimalisering te kyk en dat dit jou sal help om maniere te vind wat jou besigheid in enige ekonomiese siklus sal bevorder.

Artikel geskryf deur Jannie Rossouw, Hoof: Sanlam Besigheidsmark

Hoekom moet alles altyd verander?

 

 René Pfaff - Sielkundige

Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Verandering is deel van ons daaglikse lewe.  Al wil ons dikwels hê dinge moet net dieselfde bly omdat dit so gerieflik in ons gemaksones is, is verandering onafwendbaar op alle vlakke van ons lewens.  Daar is maniere hoe ons verandering positief kan hanteer sodat ons daardeur kan leer en groei om sodoende sterker en meer toegerus anderkant uit te kom.

Verandering kom op alle gebiede voor.  Verandering vind op persoonlike gebied plaas as ons trou, verhoudings verbreek, kinders kry of ons kinders uit die huis trek.  Dit gebeur as ons verhuis, van werk verander, iemand aan die dood afstaan of self ernstig siek word. Verandering vind ook baie binne werksverband plaas as ons ’n bevordering kry, ‘n nuwe bestuurder kry of indien jy dalk met nuwe tegnologie moet werk.  Dit is dus geen wonder dat Heraclitus, ‘n Griekse filosoof, al in 500 vc “die enigste konstante ding in die lewe is verandering” gesê het nie.

 Nou as verandering so konstant is, wat kan ons doen om verandering te beter te hanteer of om as ouers of leiers andere te help om verandering makliker te hanteer?

 1 – Verstaan die feit dat om teen verandering vas te skop normaal is.  Dit beteken nie noodwendig iemand is moeilik of onbuigsaam nie.  Daar is verskeie normale fases waardeur mense gaan wanneer hulle met verandering te doen kry:

 

Voorbeeld – ’n Man word verplaas en sy hele familie moet saamtrek:

 

Fase 1. ONTKEN – “Dit sal nie regtig gebeur dat ons trek nie, iets sal voorval”

Fase 2. ONDERHANDEL – “Ek sal ’n ander werk kry sodat ons nie hoef te verhuis nie”

Fase 3. VEG of VLUG – “Ek sal nie weggaan nie, julle kan my nie dwing nie”  of onttrek en spandeer ure  alleen in die kamer

Fase 4. TOETS –  “Kom ons gaan soontoe vir ’n langnaweek en kyk hoe dit is...”

Fase 5. AANVAAR – “Dit gaan lekker wees en ek sien uit daarna om nuwe mense te ontmoet”

 

’n Mens se emosies en gedrag beweeg deur hierdie fases as mens met verandering te doen kry, dit is heeltemal normaal.  Mens kan selfs by tye terugbeweeg na ’n vorige fase indien mens ’n terugslag of ’n slegte dag beleef.

 

  1. Onthou dat mense verskillende persoonlikhede het en daarom verskillend op verandering reageer. Party mense hou van nuwe dinge en verandering is vir hul opwindend terwyl ander van struktuur en voorspelbaarheid hou. Gee daarom vir mense spasie en moenie dieselfde reaksie van almal verwag nie.

 

  1. Diegene wat stilbly en nie uiterlik en sigbaar teen verandering vasskop nie, is nie noodwendig dié wat die verandering ondersteun en aanvaar nie. Hulle mag dalk net hul emosies wegsteek en op meer subtiele maniere (soos deur sabotasie en afwesigheid) teen die verandering vasskop. Vra dus gereeld hoe mense oor die verandering voel en gee elkeen individueel kans om daaroor te praat.

 

  1. Gee genoegsame inligting oor die verandering. Mense vrees dit wat hulle nie verstaan nie en mag dan hulle eie, ongeldige afleiding maak.  Gee liewers te veel inligting as te min en verduidelik hoe die proses en die uiteinde sal lyk.

 

  1. Wees eerlik. Selfs kinders is slim genoeg om op te tel indien dinge weggesteek word.  Mense sal jou makliker vertou as jy eerlik is oor die verandering al is die boodskap nie dalk wat hul wil hoor nie.

 

  1. Herinner mense daaraan dat hulle keuses het. Al kan hulle self niks aan die verandering doen nie, (soos met ’n siekte of afdanking), kan hul steeds hul reaksie daarop kies en besluit of die verandering vir hulle ’n positiewe leerervaring sal wees.  Menigte mense vertel hoe ’n groot, ongevraagde verandering soos ’n afdanking op die ou einde die beste ding was wat met hul kon gebeur aangesien hul nou in ’n nuwe, beter werk staan of dalk ’n eie besigheid begin het. 

 Verandering is onafwendbaar, veral in ons land.  Elke verandering bied egter ’n geleentheid om te groei en nuwe dinge te beleef.   Ek hoop dat jy sal moeite doen om verandering beter te verstaan en die vaardighede sal aanleer om verandering in die toekoms met groot sukses te hanteer.

© 2019 Kopiereg Aanbeveel